Menu
Log in



Ons moet álmal veilig voel – en dit geld vir gender ook | LitNet

03/11/2020 14:06 | Anonymous member (Administrator)

Nee. Jy kan nie iemand wat transgender is met “terapie” en/of gebed “genees” nie. Ook nie mense wat gay is nie, want indien jy dit voorstel, is jy bloot onsensitief en onkundig.

Baie kinders en volwassenes word verneder, geboelie, en gehaat; party neem hul eie lewe, omdat hulle nie aanvaar word vir wie hulle is nie. Soms word mense doodgemaak.

Hulle menseregte word vertrap, terwyl ons Grondwet duidelik sê dit mag nie gebeur nie. Maar, al was mense se regte nie verskans in ’n kragtige Grondwet nie, behoort ons nie só om te gaan met ander wat boonop ’n minderheidsgroep is nie. Die beskerming van minderhede se regte sorg dat ’n demokrasie sterk is. Wanneer mense regte bykry, verloor ’n ander groep nie hulle regte nie – dit is nie ten koste van iemand anders nie; dit is ten beste van ons almal.

Dit het nou weer gebeur dat minderhede se regte misken word.

’n Kaapse dokter wat besig is om as psigiater te kwalifiseer, het op 16 Oktober tydens ’n vergadering van die Wes-Kaapse Departement van Onderwys (WKOD) na bewering iets gesê wat hy nie moes nie, naamlik dat genderdiversiteit ’n keuse is en terapie gebruik kan word om dit te “verander”. Dít is eintlik maar niks anders as die gruwelike “omkeringsterapie” nie. Dit werk nie; dit is nie wetenskaplik nie, en dit is onmenslik.

...
Dit werk nie; dit is nie wetenskaplik nie, en dit is onmenslik.
...

Die dokter was deel van ’n afvaardiging van ’n organisasie genaamd Freedom of Religion of South Africa, ’n redelik uitgesproke organisasie wat ook uiters homofobies is, sou jy lees en luister wat hulle op video’s sê. Dit is nie mense wat liefde uitstraal nie.

Maar, waar kom dié vergadering vandaan? In Maart 2017 het die Gelykheidshof in Seshego in Limpopo ’n uitspraak gelewer nadat die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie opgetree het namens ’n transgender kind. Die kind is by die skool verneder en geteister, maar die skool het niks gedoen om ’n veilige omgewing vir haar te skep nie. Uiteindelik kon sy nie matriek voltooi nie.

Die hof het bevind dat die skoolhoof en Departement van Onderwys verantwoordelik was en is om ’n veilige, beskermende, stresvrye omgewing vir leerders daar te stel. In haar geval het hulle versuim.

Intussen het die Wes-Kaapse Departement van Onderwys riglyne ontwikkel om openbare skole en gemeenskappe te help om ’n omgewing te skep wat nie teen enigeen diskrimineer op grond van gender, geslag, seksuele oriëntasie, oortuiging, geloof of kultuur nie. Dit was op só ’n vergadering, waar daar openbare insette gevra is, dat die betrokke dokter en die geloofsgroep opgedaag het.

Die Sexual and Reproductive Justice Coalition het ’n petisie geloods wat vra dat die Raad vir Gesondheidsberoepe vir Suid-Afrika (HPCSA) dié saak moet ondersoek, onder meer omdat die geneesheer ’n konserwatiewe geloofsgroep verteenwoordig het en nie klinies objektief was nie; omdat hy klaarblyklik praktyke voorgestel het wat skadelik is en glad nie op bewese praktyk geskoei is nie; dat hy nie opgelei is op die gebied nie; en dat aversieterapie oneties is. Dit is waarskynlik teen die Suid-Afrikaanse Grondwet, en in sommige lande is dit reeds onwettig.

Die Professional Association for Transgender Health South Africa (PATHSA) het ook ’n standpuntsverklaring uitgereik. PATHSA sê dat dit verkeerd is om ’n transgender kind of tiener te probeer oortuig om die gender wat by hul geboorte toegeken is, te aanvaar al strook dit nie met hulle genderidentiteit nie. Dit verhoog aansienlik die kanse op selfdood, of om hulself te beseer. Sulke tipes praktyke is oneties en daar moet sanksies wees teen mense wat dit bedryf. Boonop kan sulke uitsprake ouers verwar om nie in die beste belang van die kind op te tree nie.

Die WKOD het op 23 Maart hulle konsepriglyne in die provinsiale staatskoerant gepubliseer. Hulle behoort geprys te word dat hulle skole vry van diskriminasie wil maak; ook dat hulle ’n bewustheid van die spektrum van genderidentiteit en -uitdrukking probeer bevorder. Die beleid sê sulke leerders moet sensitief hanteer word, met professionele hulp, en dat die kind die reg het om sy of haar eie voornaam en kleredrag te kies. Hulle mag nie afgeknou en geteister word nie, en die toilet gebruik wat hulle verkies. Verder mag die kind die tipe klere dra wat hulle wil, dus by die gender waarin hulle gemaklik voel, ook na die matriekafskeid, en hulle kan ’n maat van hulle keuse saamneem.

Daar word aanbeveel dat skole daarna strewe om ’n omgewing te skep waar LGBTQI+-leerders die versekering kan kry dat hulle ongeag hulle seksuele oriëntasie en genderidentiteit gerespekteer en waardeer sal word en beskou sal word as deel van die normale spektrum van seksuele oriëntasies en genderidentiteite. Hulle beveel aan dat skole die stigting van sosialediversiteitsverenigings, waar die viering van diversiteit aanvaar word, sal ondersteun en erken, lui die konsepdokument.

...
Ek hoop hierdie konsepriglyne van die WKOD word deurgevoer, want dit is die wêreld waarin ek kinders wil sien groei en grootword...
...

Skole moet ook lesplanne gebruik wat leerders sal help om genderstereotipering te identifiseer en gesprekke te voer en om maniere te oefen waarop leerders genderstereotipering en -verkleinering op skool kan staak.

Skoliere moet ook leer hoe hulle bondgenote kan wees en mekaar kan ondersteun. Presies dit: As jy dit nie by die huis kan leer nie, leer dit dan op skool dat ons in die wêreld bondgenote kan wees en mekaar kan ondersteun, altruïsties kan wees en empaties kan wees, twee van die eienskappe van die mens wat alte min gesien word; om jouself in ’n ander se skoene te plaas en oor hulle seer te huil en saam oor hulle geluk te lag.

Die kerk is nie (meer) die staat nie en biologie en wetenskap berus op bewese praktyke, anders as geloof. Die wetenskap het deur al die eeue aangepas en geleer. Wat is feit en wat is fiksie? Dit is naïef om te dink die lewe is binêr. Selfs van die kerke is besig om hieroor na te dink; vergelyk byvoorbeeld hierdie artikel in LitNet Akademies deur Ian Nell. Daar is ’n wye spektrum van gender- en seksuele oriëntasie. Ons is nie meer die mense van 2 000 of 20 000 jaar gelede nie, want ons het intussen geleer oor onsself.

Ek hoop hierdie konsepriglyne van die WKOD word deurgevoer, want dit is die wêreld waarin ek kinders wil sien groei en grootword; een waarin almal aanvaar word om te wees wie hulle weet hulle is, waar daar nie meer gefokus word op of jy by die groot groep “inpas” nie, maar waar individue aanvaar word vir wie hulle is.

Waar elkeen saak maak.

Want ons lewe is maar kort en dan gaan ons dood en wat maak al die veroordelings van mekaar dan saak? Kom ons probeer om goed dood te gaan, op ’n aarde waar daar plek is vir almal.

Terme sodat ons almal kan verstaan:

Geslag: Dit is die biologiese geslag waarmee jy gebore is, of wat by geboorte aan iemand toegewys word; in die geval van interseksmense is die geslag nie duidelik nie.

Gender: Gender het te doen met die manier waarop ons in en vir sekere rolle grootgemaak word en wat ons assosieer met wat ’n man en vrou is. Dit gaan onder meer oor hare-, klere- en gedragskeuses en sogenaamde norme, maar daar is ’n baie wye genderspektrum.

Genderidentiteit: Dis wat jou brein vir jou sê jy in terme van gender is. Is ek ’n man? Is ek ’n vrou? Of iewers tussenin? Dit het te doen met wat jy as individu voel en is.

Om ’n transgender persoon te wees beteken dat die geslag waarmee jy gebore is en die een waarmee jy jou identifiseer (jou genderidentiteit), nie met mekaar strook nie. Die wêreld sê dat ons moet konformeer en in spesifieke kassies van “streng manlik” en “streng vroulik” moet pas, maar dit is nie vir almal so eenvoudig nie. Sommige mense se genderidentiteit stem nie ooreen met hul biologiese geslag nie.

’n Transgender vrou is met geboorte as manlik geïdentifiseer, maar haar genderidentiteit is vroulik.

’n Transgender man is met geboorte as vroulik geïdentifiseer, maar sy genderidentiteit is manlik.

’n Cisgender persoon is iemand wie se genderidentiteit ooreenstem met die biologiese lyf waarmee sy/hy gebore is.

’n Gender-vloeibare persoon is iewers op ’n spektrum en pas nie in die binêre definisies van “manlik” of “vroulik” nie.

Seksuele oriëntasie: Gender moet hoegenaamd nie met seksuele oriëntasie verwar word nie. Dit is glad nie dieselfde nie. Jou seksuele oriëntasie het te doen met tot wie jy seksueel aangetrokke is.

’n Gay persoon is iemand wat aangetrokke voel tot ’n persoon met dieselfde genderidentiteit. Gayverhoudings kan dus tussen twee gay mans wees, of tussen ’n gay man en ’n transgender man, of tussen twee transgender mans. Of dit kan ’n verhouding tussen twee gay vroue (sommige verkies die woord lesbies) wees, of tussen ’n gay vrou en ’n transgender vrou, of tussen twee transgender vroue.

https://www.litnet.co.za/ons-moet-almal-veilig-voel-en-dit-geld-vir-gender-ook/

About PATHSA

PATHSA is an interdisciplinary health professional organisation working to promote the health, wellbeing and self-actualisation of trans and gender diverse people.


Copyright © PATHSA 2023

Contact

info@pathsa.org.za
South Africa

Powered by Wild Apricot Membership Software